SKRYWERS

Wil jy vir KOOS skryf?

  • Slegs kortverhale tussen 2000-3500 woorde sal kwalifiseer vir publikasie in KOOS.
  • Verhale kan in Afrikaans of Engels ingestuur word.
  • Temas en style moet geskik wees vir manlike én vroulike lesers.
  • Onderwerpe moenie te swaar of sentimenteel of kontroversiëel wees nie – KOOS is ontspanningsleesstof.
  • Verhale met heelwat aksie en/of humor en/of fantasie elemente kry voorkeur.
  • Skrywers moet bereid wees om hulle tekste deur KOOS te laat redigeer of verkort indien nodig.

LW: Ons probeer met elke uitgawe ‘n verskeidenheid stories en onderwerpe/style publiseer, so verhale wat aanvaar word, mag in enige uitgawe geplaas word en nie noodwendig die nuutste uitgawe nie.

Stuur kortverhale aan stories@koosmag.co.za

Geen afsnydatum nie.

Blitsverhaal-wenners

Blitsverhaal Wenner Uitgawe 3 Koos

Uitgawe 3: “Wolf-wolf” deur Isabel Martinson

Kopiereg 2018 Koos

Sy het ʼn probleem. Sy kan nie nee sê nie. En as mens nie kan nee sê nie, eindig jy op in ʼn kostuum op pad na ʼn MMA-geveg.

Tina bekyk haarself in die spieël. Sy lyk soos ʼn sprokieskarakter met ʼn identiteitskrisis. Aspoestertjie wat wonder of sy Rooikappie of Grietjie is… Gister het die uitrusting na ʼn blink plan gelyk. Nou is sy nie meer seker nie.

Ag, wat. Dis nie asof sy beplan om iemand daar raak te loop nie. Tina gooi een van haar blonde vlegsels oor haar skouer en frons. Sy probeer onthou presies hoe sy in die eerste plek in hierdie penarie beland het.

“Eavan is so af deesdae,” het Lerine Maandag by die werk gekla. “Hy sê ons spandeer nie meer tyd saam nie.”

“Ai, Lerine…”

“En nou dwing Dracula Vermaas my nog om Vrydagaand na ʼn flippen cage fighting-ding te gaan.”

“Cage fighting?”

“Die maatskappy borg een van die outjies.”

“Wil Eavan nie saamgaan nie?”

“Ek het hom al gesmeek. Maar hy weier. Hy en die organiseerder haat mekaar glo al van skooldae af.”

“Nou nog skoolpolitiek?”

“Kan jy dit oorvertel?! Anyway, dis ʼn op-dress event.”

“Soos wat? ’n Kostuumpartytjie?”

“Ja, vir liefdadigheid.”

“Wat gaan jy dra?”

“Ek wou jou eintlik vra of jy nie wil gaan nie.”

“Ekskuus?”

“Dis my en Eavan se halfjaar-anniversary. Groot asseblief, Tiens…”

Nou staan Tina voor haar ou, pers Tazz, piekniekmandjie in die hand. Sy wens sy kon eerder nou op haar bank lê en Friends reruns kyk – al peuselende aan die inhoud van die mand-jie. Turkse feta gepiekel in gekruide olyfolie bo-op vars rogbrood.

Tina gee nie om waarin sy rondry nie. Maar wat sy éét en drínk maak van haar ʼn opperste snob.

Haar maag begin draai toe sy by die groot sportsentrum instap. Sy kan die mense en harde musiek om die gevegshok van ver af hoor skree van opwinding. Sy weet nie wat om te verwag nie. Google moes haar vertel dat MMA Mixed Martial Arts beteken.

Heel verdwaas vind sy uit dat haar sitplek heel voor teen die ring is. Sy skuif haar piekniekmandjie onder haar stoel in, skielik onseker of sy haar eie kos mag gebring het. Die sekuriteits-wag het niks gesê nie. Hy’t seker gedink dis deel van haar mondering.

Drie sitplekke van haar af is iemand in ‘n Catwoman-pak al bo-op haar stoel. Haar dylengte swart leerstewels se spykerhakke los koeëlronde merkies in die plastieksitplek.

Dan begin die ligte flits. ʼn Bulderende stem kondig aan dat die belangrikste geveg van die aand aangebreek het. ʼn Lang, bruinkop-atleet kom by die arena in, totaal gefokus, heeltemal onbewus van die jillende skare. Kalmjan, dink Tina.

Die volgende vegter kom die ring binne. Sy kop blinkglad geskeer. Hy swiep sy gespierde arms na bo om die mense nog meer op te sweep. Sy skof trillend van motivering.

Dan pak die twee mekaar. Soos halfbesete roofdiere. Hande teen haar bors vasgeklem, gaap Tina die storie aan. Op ʼn stadium het die kaalkop-ou vir Kalmjan in ʼn brutale greep beet. Vasgesper op die naat van sy rug. Tina leun vorentoe in haar stoel. Vir ʼn split sekonde kyk Kalmjan haar reg in die oë, en dan knipoog hy.

Onkant gevang sit sy agtertoe. Catwoman gil verheug hier langs haar. Kalmjan het hom sowaar onder sy opponent uitgewriemel. Met ʼn swierige draaibeweging pen hy hóm nou vas. Die skeidsregter begin tel en kondig dan aan dat Kalmjan gewen het.

Tydens die laaste kragmeting van die aand kom twee ongelooflik soepel liggewigte aan die beurt. Dit is baie minder stresvol as die vorige wedstryd se vertoon van brute krag. Met akrobatiese bewegings lok hulle mekaar uit.

Tina stap glimlaggend na haar motor. Sy gaan staan ʼn blok van haar woonstel af sonder petrol. Hoe kon sy vergeet het om in te gooi, verwyt sy haarself, kop teen die stuurwiel. Te skaam om haar pa te bel, besluit sy om haar pers koets net daar te los. Wie steel in elk geval ʼn ou Tazz sonder petrol?

Sy kies kortpad deur ʼn halfverligte stegie. Daar is baie studente wat hier bly. Sy behoort veilig te wees. Maar dan hoor sy voetstappe agter haar. Sy loer vlugtig oor haar skouer. Dis ʼn lang man. Hy volg haar. Hoe vinniger sy stap, hoe meer rek hy sy treë. Koue rillings trek deur haar hele lyf. Haar keel is kurkdroog.

Tina kyk vervaard rond vir hulp. Waar is ʼn raserige student as jy hulle die dag nodig het?

Haar agtervolger vat aan haar skouer. Sy ruk om, gil eers … en frons dan. Dis Kalmjan.

“Hoekom loop jy hier rond, Rooikappie?”

“Ek kan jou dieselfde vra.”

“Ek was op pad huis toe, my referaat wag. Toe sien ek jou uit jou kar klim.”

“My petrol is op.”

“Het jy niemand om te bel nie?”

“Ek bly net hier onder.”

“Is jy nie bang vir die donker nie?”

Tina lag. “Jy is mos nou hier.”

“Sê Rooikappie wat my aangekyk het asof ek ʼn barbaar is, terwyl ek vir Die Hard beetgehad het.”

“Ekskuus. Dit was my eerste geveg.”

“En?”

“Hoekom doen jy dit?”

Kalmjan trek sy skouers op. “Vir die kick.”

“Maak dit nie seer nie?”

“Nie meer as wat die regte lewe maak nie.”

“Ja, wel…”

“Solank mens net bly opstaan.”

“Is jy honger?” vra Tina skielik, terwyl sy na haar mandjie beduie.

Hy glimlag. “Soos ʼn wolf.”

“Ek het nie regtig iets wat superhoog in proteïne is nie.”

“Ag, nee wat. Uintjies uit die vlei is ook doodreg.”

Blitsverhaal Wenner Uitgawe 2 Koos

Uitgawe 2: “Laastelag” deur Helena van Heerden

Kopiereg 2018 Koos

Verward kyk hy om hom rond. Iewers is ‘n groot slang in die gras. Sanderige vlaktes strek so ver soos wat hy in die helder maanlig kan sien. ‘n Lendelam bordjie wat skeef vasgeslaan staan in die los sand, is die enigste noemens-waardige landmerk. ‘n Krieweling gly teen sy ruggraat af toe hy die eensame bordjie van naderby bekyk. Daar is iets op geskryf, maar die dowwe letters kruip in die maan se lang skaduwee weg

Met ‘n bruingebrande hand vat hy sy hoed se breë rand vas en draai dit in die rondte. Niks. Nie dat hy eintlik iets verwag het nie; die langoor-smous het mos gesê hy het sy hoed net een keer gelaai. Net genoeg om hom by sy bestemming te kry, wat beslis nie in die middel van niks en nêrens was nie! Hy kan nie glo dat sy hoed hom hierdie keer gefaal het nie, want vir meer as ‘n dekade het hy hom altyd gekry waar hy wou wees. Maar die rand flap al vir ‘n tydjie lusteloos; hy moes geweet het dat die einde naby is. Tensy die vervlakste elf by wie hy die hoed laat laai het, iets hiermee te doen het… Hy sit sy aktetas neer en sien vir die eerste keer die voetspore in die sand rondom die bordjie.

Sy oë vernou terwyl hy die moontlike bewyse van waar hy is en hoe hy weer by die beskawing gaan uitkom, staan en betrag. Sy hande gaan outomaties na die kamera wat om sy nek hang. Met die aanraking spring die kamera op en begin liggies vibreer om die doppie af te werk. Die kamera swaai deur die lug en sy skerp flits beweeg soekend in alle rigtings. Elke keer as die lens iets buitengewoons optel, wys dit op die skermpie. Die storie wat op die kamera se skerm vertel word, is eenvoudig: gestewelde voetstappe verskyn uit die niet naby die bordjie, waar dit ‘n paar keer heen-en-weer loop en dan weer in die donker nag verdwyn. Vanuit ‘n ander rigting het ‘n man kaalvoet aangeloop gekom en ook vir ‘n ruk voor die bordjie gestaan, toe weer ‘n nuwe rigting ingeslaan. Die laaste prentjie op die skerm wys nou die bordjie se geskilferde donkerrooi letters teen die verrotte hout uitstaan: Laastelag.

Die man klap sy vingers ongeduldig en die kamera kom lê weer gehoorsaam teen sy bors. Dis dus soos hy vermoed het: die astrante elf het sy hoed betower om hom in hierdie hel vas te vang. Die outjie het hom seker nie herken nie, berug soos hy is ten spyte.

Hy het homself nog nooit veel aan die fabels oor Laastelag gesteur nie. Dit het vir hom altyd in dieselfde kategorie as Pretoria geval – ‘n onsinnige plek wat in iemand se verbeelding ontstaan het. Terwyl hy egter nou buk om sy tas oop te maak, dink hy aan alles wat hy van Laastelag se stories kan onthou. Dis blykbaar ‘n dimensie wat die elf-koningin duisende jare gelede geskep het om gevangenes in vas te vang. Van daar af is die vertellings uiteenlopend; party glo dat die elwe tog te lekker lag terwyl hulle deur ‘n betowerde spieël kan sien hoe die gevangenes spook om hier uit te kom. Ander sê weer daar is ‘n gas in Laastelag se atmosfeer wat almal hier onwillekeurig laat lag.

Sy mond trek op ‘n grimmige streep terwyl hy sy pyltjiepistole een vir een uit sy tas haal. As daar nou één ding is wat hy, Petrus Smurfbek, háát, dan is dit ‘n gelag. Dis ‘n lawwe gewoonte wat betekenisloos en tydrowend is. Hy druk die pistole in sy belt en gooi die aktetas oor sy rug. Dadelik skiet daar twee bande oor sy skouers en die tas gaan stewig tussen sy blaaie lê. Gedetermineerd begin hy aanstap terwyl hy die maan die heeltyd aan sy lin-kerkant hou. Orals waar hy kyk, is daar net ononderbroke sand. Een keer kruis hy ‘n stel voetspore wat, volgens die kamera, dieselfde voetspore is wat hy by die bordjie gekry het. Ure later sien hy iets op die horison en forseer sy moeë lyf om vinniger vorentoe te beweeg. Soos hy naderkom, sak sy moed in sy skoene. Dis dieselfde vervlakste bordjie van vroeër. Die maan hang nog al die tyd tartend aan sy linkerkant.

Vasberade draai hy om en loop hierdie keer reguit op die maan af. Net om weer by die bordjie uit te kom. Beduiweld trek hy sy baadjie uit en gooi dit in die sand langs die bordjie neer. Ten spyte van die koel nag – wat hy vermoed vir altyd gaan voortduur – is hy natgesweet en uitgeput. Hy besluit om die spore te probeer volg om te sien waar dit vandaan kom. Ná ‘n ruk kom hy op spore en strepe in die sand af wat getuig daarvan dat iemand sy skoene uitgetrek het en verder kaalvoet ge-loop het. Die man met die stewels en die kaalvoet man is dus een en dieselfde persoon! Bitterwaks! Hy volg die voetspore maar verder, net om weer by die onvermydelike bordjie uit te kom. Moeg val hy op sy sitvlak neer en druk sy hande gefrustreerd in sy hare.

“Okei! Julle wen! Ek gee oor, laat my gaan!” Sy harde stem slaan vas teen die nag. Daar’s tog geen rede vir die elwe om hom hier te hou nie. Almal weet hulle is net onnutsige grapmakers met te veel tyd op hande. “Julle grappie is nou verby!” roep hy weer. “As julle my nou laat gaan, sal ek maak of ek hieroor lag en dan van die hele petalje vergeet!”

Niks gebeur nie. Lang minute gaan verby terwyl sy knormeter so duskant die rooi begin klim. Hy is dan die Keiser se regterhand! Hy het die mag om die elwe van hoek tot kant uit te roei, as hy lus het, diplomasie na die maan! Hy sal ieder en elk van hulle laat betaal vir hierdie vernedering…

Hy hoor iets agter hom ritsel en draai vinnig om, sy pyltjiepistole gereed in sy hande.

“Petrus? Is dit jy?” vra die Keiser verbaas. Sy voete is kaal. In sy hande dra hy ‘n verweerde paar stewels.

KONTAKBESONDERHEDE

Kontak die kantoor:

Tel: 021 930 0908
Algemene navrae: mail@koosmag.co.za
Kortverhale / Inhoud: stories@koosmag.co.za
Advertensies: ads@koosmag.co.za

Besoek ons winkel:

Anna Emm Boekwinkel
Winkel 510 Tygervallei-sentrum
Willie Van Schoor Ave, Bellville

Kuier saam op sosiale media:

facebook logo  Facebook

instagram  Instagram